Met 800 miljoen kykers per maand is YouTube die grootste video-webruimte ter wêreld en dus ’n manier waarop Suid-Afrikaanse ondernemings hulself kan bemark. Maar volgens WorldWideWorx benut net 46% van Suid-Afrikaanse maatskappye dit, teenoor 79% wat Facebook en 58% wat Twitter gebruik.


517687f79af5d06a2b000000

Die gewildste platform vir video’s is YouTube, maar volgens WorldWideWorx benut net 46% van Suid-Afrikaanse maatskappye dit.

Mich Atagana, kommunikasiebestuurder van Google Suid-Afrika, gee ’n paar wenke:

  • Stel doelwitte vir jou video. Wat wil jy daarmee bereik – bewustheid oor jou onderneming, verkeer na jou webruimte lok, klante se vrae beantwoord?
  • Wees opreg. Goeie video is eerlik, so gryp die beste kamera wat jy het en begin net. Gee ’n toer deur jou winkel, vertel die verhaal van hoe jou onderneming begin het, of antwoord die vrae wat die meeste mense vra. Kyk op YouTube rond hoe ander mense hul besighede bemark. Jy kan ’n vinnige “Só doen jy dit”-video maak, of ’n resensie van ’n kliënt opneem – alles hang af van jou doelwitte, jou gehoor en hul behoeftes.
  • Bemark jou video. Sodra jou video op YouTube gelaai is, kan jy dit met Google AdWords vir video-advertensies bemark. Sluit ’n skakel na jou video op jou webruimte en besigheidskaartjies in, en deel dit op sosiale netwerke. Om ’n beskrywing, titel en bykomende notas aan te heg, is ’n vinnige en gratis manier om dit te bemark. Dit vergemaklik mense se soektog daarna.
  • Ondersoek redigeringsgereedskap. Met digitale video is redigering makliker as ooit. Bykans elke nuwe rekenaar het deesdae ’n gratis videoredigeringsprogram op, soos Apple se iMovie of Windows Movie Maker, of aanlyn kry jy YouTube se Video Editor.
  • Hou dit sosiaal. Moedig mense aan om op en van die web oor jou onderneming te praat deur kommentaar en stemming moontlik te maak. Maak dit so interaktief moontlik.

Hierdie artikel is oorspronklik gepubliseer op Netwerk24.com

Leave a Comment

You must be logged in to post a comment.